‘Apartheid in die ander Transvaal’. Nederland door Zuid-Afrikaanse ogen…

Mijn vriend en collega Julian Muller uit Pretoria woonde en werkte twee maanden in Amsterdam. Hier een impressie. Het geeft te denken als je onze samenleving door Zuid-Afrikaanse ogen ziet.

“Digby die Amstelstasie in Amsterdam is daar ‘n buurt wat mens terugverplaas in Suid-Afrika, waar ons geskiedenis van die afgelope eeu in name en simbole uitgedruk word. Die Transvaal-buurt is duidelik benaam ter herdenking van die Anglo-Boere oorlog en in simpatie met die Boere van die ou Transvaalse Republiek. Daarom vind mens daar strate met die name van Paul Kruger, Pretorius, Christiaan de Wet, De la Rey, Genl. Louis Botha, Majuba, ensovoorts.

Die Nederlandse simpatie met die Boere tydens die oorlog en daarna is ‘n bekende feit. Daarom het daar in die eerste deel van die vorige eeu in verskeie stede buurte met Boere-straatname ontstaan. Maar dit is ook ‘n feit dat daar later net so ‘n weersin ontwikkel het teen apartheid. Beide hierdie sentimente het simbolies gestalte gekry langs die Krugerplein, op die hoek van Genl Louis Bothalaan en Schalk Burgerstraat in die Transvaalbuurt naby Amstelstasie. ‘n Beeldhouwerk is opgerig wat die gedagte van eenheid, maar ook die gevaar van verdeeldheid op ‘n baie treffende wyse uitgebeeld. ‘n Arm en ‘n been wat vas teen mekaar die lug in wys, is uit ‘n ander hoek igesien, weer in twee gekloof – asof met ‘n swaard oopgekloof. ‘n Paar meter van die beeld is die straat opsigtelik verander van Genl. Louis Botha na Albert Luthuli. En voor die beeldhouwerk is daar ‘n plaat op die plaveisel met die volgende inskripsie:

Wie onder ons is meer of minder

Monument tegen apartheid

En racisme

De relatie van arm en been

Staat voor menselijke eenheid

In verskeidenheid

De onnatuurlijke splitsing ervan

Is de moedwillige ontkenning

Van de eenheid                           (Pepe Gregoire – Beeldhouwer)

Ons het toevallig die middag hier beland. Ons woon omtrent ‘n kilometer weg in ‘n woonstel wat deur die Vrije Universiteit aan ons voorsien is. Op soek na ‘n supermark waar ons die nodige kan aankoop , beland ons in hierdie fasinerende buurt. Die straatname val ons dadelik op en daarmee saam die opsigtelike moslem-inwoners. Daar het beslis ook baie verander in hierdie buurt sedert die uitleg daarvan byna ‘n eeu gelede. ‘n Mens beleef ‘n vreemde paradoks, die Boerename op die geboue enersyds en die moslembewoners andersyds.

Ons haak vas voor die fasinerende beeldhouwerk en ontdek dan die inskripsie op die plaveisel. Terwyl ons dit alles staan en inneem en meegevoer word in ons eie gedagtes wat spring tussen denkbeelde van oorlog, vrede, verdeeldheid en die brose eenheid in ons eie land, is daar meteens ‘n oproerigheid rondom ons. ‘n Polisiekar hou omtrent teen ons stil met mense wat wild en wakker hardloop en op mekaar skree. Presies wat en waar gebeur het, weet ons nie, maar daar word oor en weer geskree en vingers gewys. Die polisie sit ‘n paar kinders agterna en ‘n ander man word vlak by ons deur drie polisiemanne omsingel en ondervra.

Toe alles tot bedaring gekom het, is daar ‘n moslemvrou (herkenbaar aan haar drag en volgens voorkoms van Turkse afkoms) wat vlak by ons staan en met die polisievrou praat. Ons hoor duidelik wat sy sê: “Dese Marokane wil altyd de overhand hebben. Ze moeten naar hun land terugkeren!”

Sy staan met haar voete op die inskripsie. Ek weet nie of sy dit al ooit gelees het nie, maar duidelik het sy dit nie ter harte geneem nie. Dit maak in elk geval nie ‘n verskil aan haar ervaring van die etniese onenigheid in hulle klein Transvaal-buurt nie. Dit is asof die edel motiewe wat in die name en simbole van die buurt vasgevang is, nie grondgevat het in die gesindheid en verhoudinge tussen die gewone mense wat daar woon nie. Dalk verteenwoordig die vreemdelingehaat wat uit die vrou se woorde na vore kom, nie werklik die sentimente van die meerderheid buutbewoners nie. Nogtans tref dit mens dat sy nie huiwer om in duidelik hoorbare klanke, op die openbare plein, so ‘n uitspraak te maak nie. En die feit dat sy dit vir ‘n polisievrou in amptelike drag en voertuig sê, vertel ‘n verhaal op sigself.

Die algemene indruk wat mens van die Nederlandse samelewing kry is dat daar ‘n groot mate van toleransie bestaan. Mense van verskillende kulture en rasse leef vreedsaam naas mekaar. Maar dit is ook duidelik, veral in hierdie tyd voor ‘n algemene verkiesing op 9 Junie 2010, dat die saak van vreemdelinge, emigrante en asielsoekers brandende politieke kwessies is. Onverdraagsaamheid kom normaalweg nie so blatant na vore nie. En dit is nogal ‘n skok om dit vlak voor die anti-apartheidsbeeld vlak by die Krugerplein, in die Transvaal-buurt te ervaar!

Ons is stil toe ons huis toe stap. Ons is opnuut onder die indruk van die broosheid van waardes soos respek vir ander, ruimte vir vreemdelinge, vreedsame naasbestaan, dit wat die Bybel noem naasteliefde. Hierdie waardes word telkens weer bedreig en dit is duidelik dat dit nooit vanselfssprekend na vore kom nie. Dis maar ‘n paar weke gelede toe ons in Suid-Afrika ook die rooi ligte van rasse-haat sien flikker het.  Mag ons daarvan bewaar bly om nie haat aan te blaas terwyl ons, by wyse van spreke,  bo-op die inskripsies van  ons geskiedenis met sy verleenthede en oorwinnings staan nie.”

(Verschenen in BY (Bijlage bij Beeld, Burger en Volksblad)

Advertenties

Reacties staat uit voor ‘Apartheid in die ander Transvaal’. Nederland door Zuid-Afrikaanse ogen…

Opgeslagen onder Uncategorized

Reacties zijn gesloten.